Goody on route

Who: Joop, Jacolette, Johannes, Dirk and Lelei
Port: Richards Bay
06 September 2013 | Richards Bay, South Africa
05 September 2013 | Portugese Islands, Inhaca, Mozambique
03 September 2013 | Mozambique
30 August 2013
29 August 2013 | Bassas da India
28 August 2013
26 August 2013
21 August 2013 | Madagascar
17 August 2013 | Madagascar
10 August 2013 | Nosy Antsoba, Madagascar
06 August 2013 | Nosy Be, Madagascar
04 August 2013 | Madagascar
03 August 2013 | Nosy Be, Madagascar
21 July 2013 | Nosy Be area
15 July 2013 | Indian Ocean
11 July 2013
10 July 2013
07 July 2013
06 July 2013

Lelei

30 August 2013
Jacolette
Lelei - 30 August 2013

Vandag sewe maande gelede het die dokter haar vir my aangegee. n Klein pienk bondeltjie. n Engeltjie.

Die vashou was van korte duur want sy moes gekoppel word op die monitors. Hart monitors. Soos ek voor die tyd gewaarsku was. Na n paar minute sê Joop vir my die hartjie klop normaal. Vir die oomblik in elk geval. Teen daai tyd was die operasie tafel se linne reeds nat van my trane.

Later die dag het die seuntjies hul splinternuwe baba sussie kom bewonder. Hul mag egter nie te naby gekom het aan my of haar nie, want die nag voor haar geboorte het beide loopneuse ontwikkel (van waar ????). Dit was n nagmerrie, vir hul en ook vir my. Vele male het Johannes met trane in sy oë uitgeloop as sy pa gesê het dis tyd om te gaan. Net die trane, geen woorde. En daar was ook geen woorde wat dit kon beter maak nie.

Sy was gemonitor in Pediatriese ICU, en ons Dr. Mary was ook geleerd as n pediatriese kardioloog. Sy moes alles omtrent Lelei se hartjie monitor, en het getrou elke oggend eerste ding en elke aand laaste ding vir haar kom kuier. 'n Besonderse vrou, en 'n voorreg om haar te kon leer ken gedurende ons tyd in Penang.

Na drie dae is ek offisieël ontslaan en kon huis toe gaan. Alleen. Lelei moes bly. Vir monitering. Soos ek voor die tyd gewaarsku was.

Dit het beteken dat ek elke drie tot vier ure die klokkie buite die deure van pediatriese ICU gelui het. Partykeer het sy vroeër wakker geword, en die susters moes vir haar uitgepompde borsmelk uit die yskas ontdooi. Dan het ek maar weer uitgepomp en eensaam my pad weer teruggevind boot toe. Partykeer het ek sommer besluit om die ure af te wag in die hospitaal, om sodoende nie die volgende voeding weer te mis nie. So het ek die ander opgewonde pappas sien inkom met hul leë karstoeltjies, om n paar minute later weer uit te loop met sy arm om sy vrou, en n beskermende kyk na die inhoud van die gevulde karstoeltjie in sy ander hand. Nooit het ek die waarde van daai eenvoud genoeg waardeer nie.

Die pediatriese kardioloog het in die komende paar dae n vriendin geword. Sy het verstaan. Die risikos, asook die harde feite. Vier-uur die sondagmiddag het sy in my kamer ingekom. Dit was nie haar gewone roetine nie, en ek het onmiddelik regop gesit. Sy het vroeër die dag met die ander kardioloeë op die eiland vergader, en haar advies via hul, aan my is dat hul moet opereer. Hoe gouer, hoe beter. Maar dit bly ons besluit. Sy sal na die aandrondte weer langskom om ons besluit te hoor.

Maandagoggend agt-uur sit ons vier buite die deure van Dr. Hafiz Law, pediatriese kardiotorakale chirurg van die eiland. Hy verduidelik die prosedure, en weereens die risiko's. Alles is beplan vir Donderdagoggend. Woensdag sal hul haar skuif met die ambulans na Gleneagles hospitaal, twee km van waar sy was want dis die hospitaal vanwaar hy opereer. Hy sal bygestaan word deur Dr. Mary.

Dinsdagoggend agt-uur loop ek agter die trollie aan met n slapende Lelei, haar ICU suster, en Dr. Mary aan. Lelei is vroeër die oggend gesedeer want vir die CAT scan moet sy doodstil lê, anders sal die fotos buite fokus wees en Dr. Law sal nie sy operasie beplanning kan doen nie. Na 45 minute se gerammel, wag, herhaal, gerammel en wag, stap ek weer agter die trollie aan. Terug na ICU.

Dinsdagmiddag vier-uur kom sê Dr. Mary vir my dat die CAT scan onsuksesvol was. Die hartjie is te klein, en as hul inzoom is die resolusies nie goed genoeg nie. Haar oplossing is nog n echo sonar wat Dr Law sal moet gebruik vir die operasiebeplanning. Dis die beste wat hul kan doen aangesien sy gedurende haar ontwikkeling in my baarmoeder slegs een nier ontwikkel het, en toe ook so gebore is, en dus nie sekere kleurstowwe kan inneem nie. Net toe stap Joop en die seuns in, om my te kom haal vir die drie ure tussentyd. Ek sê toe vir hom dat ek tyd saam met die seuns wil he en dat hy saam met Dr Mary moet ingaan as sy die echo sonar doen.

Dertig minute later kom hy uit ICU. Sy oë gevul met emosie. Hy sê vir my "Dr. Mary sê daar is geen operasie meer nodig nie". Kort en kragtig, soos hy mos is. Ek sê toe vir hom dat ek nie verstaan wat hy gesê het nie. Hy moet dit herhaal. "Daar het n wonderwerk gebeur, en daar is geen operasie meer nodig nie. Die bloedvloei in Lelei se hart het verander en is nou normaal. Die vernouing is ook nie meer daar nie. Daar is geen operasie meer nodig nie!"

Dr. Mary kon dit nie verklaar nie, en so ook nie die ICU susters nie. Hulle het almal die vorige echo sonars ook gesien. Dr. Mary versoek toe n tweede opinie van nog n pediatriese kardioloog van n ander hospitaal op die eiland. Later die aand na vele vrae van my aan die suster, het sy dit mooi opgesom, "don't expect to understand it, it is a miracle!"

Woesndagoggend het my drie mans in my lewe vir my en my klein engeltjie kom oplaai, en ons terug gevat boot toe.

Prys die Here!
Comments
Vessel Name: Goody
Vessel Make/Model: Dean Catamaran
Hailing Port: Richards Bay
Crew: Joop, Jacolette, Johannes, Dirk and Lelei
About: Joop, myself and our 2.5 year old son, Johannes, left Richards Bay harbour on 6 December 2008. Since then, Dirk was born in 2009 in Curacao, Dutch Antilles and Lelei in January 2013 in Penang, Malaysia.
Goody's Photos - Main
4 Photos
Created 27 July 2013

Who: Joop, Jacolette, Johannes, Dirk and Lelei
Port: Richards Bay