C & R Cruising

14 June 2014

Lewe op Soulmate

14 June 2014
Conrad en/of Ria
Hallo uit Marmaris.

Soulmate is 'n Knysna 440 wat in 2008 te water gelaat is en is ons huis terwyl ons langs die pragtige kus van Turkye rond seil.

Daar is 4 kajuite, elkeen met 'n "dubbelbed" toe gerus. Die twee hoof kajuite het elk 'n en-suite bad/stort kamer en toilet en is ruimer dan die agterste twee kajuite wat minder as 1m² vloerruimte het. Dit beteken dat as ek staan en aantrek moet Ria of buite wag of op die bed sit - gelukkig trek ons nie heeldag uit/aan nie! Die agterste kajuite het "los staande" ablusies elk wat 'n toilet, wasbak en handstort insluit en is ook beskikbaar vir algemene gebruik deur die dag. Ons slaap aan die stuurboord kant (dit is die regter kant van die boot, bakboord is links) en het dan ook daardie kant se toilet etc vir onsself toe geëien.

Daar is ook 'n ander aspek rondom die toilet stories wat nogal die lewe op hierdie boot baie "interresant" kan maak. Eerstens het ons Italiaans ontwerpte en vervaardigde toilette - hulle werk elektries - met 'n "before use" en 'n "after use" druk skakelaar. Die eerste pomp 'n bietjie (hoeveelheid is afhanklik van die stelling agter aan die versteekte paneel) en die ander voeg nog water by en pomp dan die hele lot uit via 'n "macerator" pomp - als word relatief fyn gekap behalwe goed soos kersie pitte etc en dan, van alle dinge, die Turkse toiletpapier! Hier kom dus die eerste stel toilet reëls te berde! 1 - moet nie kersie, waatlemoen etc pitte insluk nie! Dit kan die pomp opneuk! Nee, tamatiepitte en rissiepitte is oukei! 2 - gebruik asb so min moontlik toilet papier, maar hoeveel jy ookal gebruik, gooi dit asb in die sakkie in die houer reg langs jou toilet. Ons maak die houers op 'n daaglikse basis leeg - nie 'n lekker joppie nie maar, glo my, veel minder onaangenaam (dit kan nooit "aangenamer" wees nie!!) as om 'n verstopte toilet te probeer regmaak.

Dan is daar nog 'n verdere aspek rondom die toilet stories. Die twee voorste toilette het sogenaamde "black water tanks". Dit beteken dat hierdie toilette enige plek gebruik kan word, selfs wanneer ons in die kleinste van baaitjies geanker is of iewers aan 'n marina vas gemaak is. Maar!!! Ja, daar is altyd 'n maar en in hierdie geval is dit dat die twee tenks is elk maar 40liter groot en met oormatige gebruik word hulle erg vinnig vol en kan dan eenvoudig nie meer gebruik word nie - dit wat jy uit pomp druk, agv swaartekrag, bloot weer terug in die spoelbak in!! Die agterste twee toilette se inhoud gaan reguit see toe. So, hier kom nog 'n klompie toilet reëls: 3 - wanneer ons in 'n baai is en daar is vaste stowwe (nr 2) betrokke, gebruik die voorste twee toilette. 4 - op die oop see (so 2 - 3 seemyl van die kus af - 1seemyl = 1.852km), gebruik die agterste toilette - moet nie onnodig die tenks vol maak nie. 5 - gebruik verkieslik net die "after use" drukskakelaar. 6 - as daar 'n ou probleempie "opduik" ROEP DIE SKIPPER! Dit help nie om "skaam" te wees nie, die probleem raak dalk net groter. 7 - indien daar fassiliteite op land beskikbaar is, gebruik dit!

Ria het nogal heelwat komieklike "stink" stories rondom die toilette te vertelle - sal maar moet wag en kyk of sy hulle gaan vertel.

Van die kajuite af, met so twee trapies op, land mens in die "saloon/galley", die hart van 'n gelukkige verblyf op Soulmate. Dis hier waar lekker etes berei word en koeldranke, koffie en tee aangebied word. Soms met groot moeite, soos om skaap skenkels vir 3 uur in die gas oondjie (hy is klein!!) op te pas in 43°C buite temperature, ander kere baie maklik met 'n lekker ligte middag ete met allerhande lekker goed soos die beste olywe, fetta kaas, jogurt met fyn gekapte komkommer of iets dergliks daarin en lekker broodjies - sy is 'n ster in die kombuis. Maar terselfdertyd moet sy ook die yskas en vrieskas goed oppas - teveel oop-en-toe en die effektiwiteit is in die drein af! Dus is daar nog 'n klompie gebruiks reëls wat tersprake kom - moet nie in Ria se kombuis rond voeter nie! Vra, en sy help met graagte. Pasop vir die ketel op die gasstoof en los haar keramiek kook gery - hulle word soos fyngoud opgepas!

Dit is natuurlik ook die plek waar meeste van die proviant gestoor word soos vars vrugte - daar is 'n verskeidenheid en ons koop gewoonlik net wat op daardie stadium "in seisoen" is. So het ek nou-nou gepraat van kersies - hulle is huidiglik in oormaat op die rakke, heerlik soet en bloedrooi en wanneer hulle uit die yskas kom is dit soos lekkergoed - woerts-warts en dis op!

Groete vir eers

Conrad en Ria
Comments
Vessel Name: Soulmate440
Vessel Make/Model: Knysna 440
Hailing Port: Kaapstad